Home » Interne nuusbrief » Laat ‘n Ligspoor – Hanneke

Laat ‘n Ligspoor – Hanneke

hanneke-foto‘Ek werk vir die Here’

Artikel deur Conette le Roux. Foto: Dan de Koker.

Hanneke Groenewald verkies om in haar hoekie met haar werk doenig te wees. “Ek werk met getalle, dis my ding,” sê sy. Maar, elke bankstaat wat sy nagaan, betaling wat sy doen of verlofvorm wat sy tussendeur aanstuur is “vir die Here”.

Wanneer jy by Hanneke Groenewald (37) se kantoor instap val die blou, groen, oranje en geel lêers wat haar in netjiese rye teen die muur omring, jou op. Fakture en bankstate, in omslae gerangskik, haar lessenaar vol.

“Ek werk met getalle, dis my ding,” sê Hanneke, assistent-rekenmeester by Bybel-Media die afgelope agt jaar.

Die kleure van die lêers dui aan vir hoeveel maatskappye onder die Bybel-Media-sambreel se “getalle” sy verantwoordelik is. Blou vir Tydskriftemaatskappy, groen vir dié wat direk onder Bybel-Media val, oranje vir FLAM en geel vir Nehemia Bybelinstituut.

UIF, bankstate, debiteure, krediteure en betalings, en die boekhou van elke Bybel-Media-werknemer se verlof, is alles deel van haar dagtaak.

“Ondersteuningsdienste”, word die finansies-departement genoem. Administratiewe ondersteuning vir van bo in die Ferguson-gebou vir publikasies en tronkbediening tot onder op die onderste vloer by Bybel-Media Handel. Sou sy nie dalk ook in die voorste linies van hierdie afdelings wou werk nie? “Nee!” sê sy, sy verkies dit om agter die skerms te werk.

“Ek verkies om in my hoekie met my werk doenig te wees. Soos ek vir dr Pieter gesê het toe ek vir my onderhoud destyds gekom het: ‘Ek werk nogsteeds vir die Here, al doen ek finansies.’ Ons elkeen het ons plekkie waar ons pas.”

Voorheen was Hanneke onderwyser in handelsvakke soos rekeningkunde en ekonomie by La Rochelle-meisieskool in die Paarl. Voor dit het sy ook dieselfde vakke by ʼn paar ander skole aangebied. Maar sy het nie tuis gevoel nie. “As jy ʼn onderwyser is en besef die admin is vir jou die hoogtepunt van ʼn dag by die skool, dan weet jy jy is in die verkeerde beroep.

“Maar dit was nie ʼn mors van tyd nie. Ek het baie geleer. Ek was voorheen baie teruggetrokke, maar om onderwyser te wees het my selfvertroue gegee,” vertel Hanneke.

Ten spyte van haar voorkeur om in haar kantoor en met syfers doenig te wees, is haar gunsteling-deel van haar werk by Bybel-Media, steeds haar kollegas.

“Kollegas in Finansies, en ook ander afdelings, ondersteun mekaar as nodig, is saam bly oor die positiewe dinge in mekaar se lewe. Almal dink nie net aan hulself en probeer hulself verryk nie. Ons kan in liefde van mekaar verskil en weet as ’n maatskappy wat dit ten doel stel om getrou aan die Woord van Jesus te lewe, ons saam as kinders van hom kan funksioneer.

“Ek het met my troue gesien hoe almal saam met my bly is en my ondersteun. Dit was wonderlik.”

Toe sy oor dié “spesiaalste dag in haar lewe” begin gesels, lag sy dat haar oë op skrefies trek. “Dis so lekker om getroud te wees,” sê sy. Tydens ons gesprek is dit net ʼn paar dae sedert mejuffrou van Lill as mevrou Groenewald teruggekeer het.

Sy vertel van hulle spesiale dag op 1 Oktober toe sy ewige trou aan Gerrit in die NG gemeente Kuilsrivier beloof het. “Ds Helené Fouche het dit reggekry om ons albei se gunsteling-Bybeltekste te kombineer. Jesaja 43 vir my en Psalm 1 vir Gerrit. Sy het so gesels-gesels die seremonie gedoen, sonder om dit soos ʼn preek te laat klink.

“En toe ek weer sien, is ons getroud!”

Meer oor Hanneke

  • Haar motto: “Ek wil ten alle tye optree soos ’n kind van die Here, al is dit soms moeilik.”
  • Sy het ʼn onderwysgraad, maar het intussen laasjaar ʼn B Compt-graad by Unisa verwerf.
  • Sy is in Bloemfontein gebore.
  • Sy (en haar man, Gerrit) is baie lief vir die see.