Home » Interne nuusbrief » Laat ‘n Ligspoor – Koos

Laat ‘n Ligspoor – Koos

‘God het dié werk vir my gegee’

By Bybel-Media is daar al sowat ʼn jaar en ʼn half ʼn man in ʼn denim voorskoot wat onder andere sorg vir skoon skottelgoed. “Ek glo God het dié werk vir my gegee omdat ek hier moet wees. Tussen al die Bybels en die Christelike boeke …”  sê Koos Petersen, Bybel-Media se skoonmaker. Conette le Roux het met hom gesels.

Elke oggend net na 6:00 val Koos Petersen (53) in die pad na Bybel-Media. Hy stap vanaf die plaas Koplande, buite Wellington, om vroegoggend op sy pos as skoonmaker in die Ferguson-gebou te wees.

In die winter was dit nog pikdonker wanneer hy begin skottelgoed was, drommetjies uitgooi en handdoeke en vadoeke vervang het.

“Ek was in die begin lekker bang. Hanno terg my gereeld oor tannie Ferguson wat hier ronddwaal!

“Nou is dit darem al vroegoggend lig. Wanneer ek wegstap by die huis kan ek alreeds die pragtige uitsig vanaf ons voordeur bewonder. Dis die mooiste gesig wat jy kán kry,” sê Koos.

Koos woon saam met sy jonger broer, Charles, sy ma se broer “oupa Dirk” (78) en sy neef, Anthony. Sy ma, Lena (75), het tot onlangs ook by hulle gewoon, maar het na ʼn beroerte na Koos se ouer broer verhuis, omdat hy bedags tuis is en haar kan versorg.

Koos het op 1 April 2015 by Bybel-Media begin werk. Hy vertel dat hy aanvanklik nie geweet het waar om te vat, en waar om te los in die groot ou gebou nie. Maar gelukkig het Marí Joubert en Jeannette Swart vir hom ʼn rooster uitgewerk en vir hom wenke gegee, sê hy.

“Ek het báie geleer. Ook hoe om skoonmaak te geniet.

“En ek was aanvanklik skepties oor al die mense in die gebou. Maar ek is nou gek oor die mense. Ek staan nou op om te kom werk!”

Koos dink terug oor sy lewe voor Bybel-Media. Daar was goeie tye, maar ook swaarkry.

Sy eerste werk was by Volkskas, waar hy 15 jaar gewerk het. Eers as bode en later as administratiewe klerk. Hy het ook by Standard Bank gewerk, maar is afgelê toe hulle “mense moes minder maak”. Hy vertel: “Ongelukkig was dit last in, first out”.

Daarna het Koos vir vyf jaar gesukkel om werk te kry. “Ek het toe vrywilligerswerk by Kansa, Child Welfare en LoveLife gedoen om besig te bly.”

Koos vertel hy het uiteindelik tydelike werk by Koplande se kleuterskool gekry. “Ek het dit vreeslik geniet om met die kindertjies te werk,” sê Koos.

Toe het ʼn werk as kassier in Vredenburg gevolg. “Maar die mense daar was so onvriendelik gewees. Ek kon nie daar bly nie,” sê hy. In dié tyd het hy van die werk by Bybel-Media gehoor en aansoek gedoen.

“Ek glo God het dié werk vir my gegee omdat ek hier moet wees. Tussen al die Bybels en die Christelike boeke.

“Ek wil weer die ou Koos wees soos toe ek was voor ek sonder werk gesit het. Ek het ʼn motor gehad en my eie woonstel in Malanstraat gehuur.

“Van hier af wil ek net vorentoe kyk en die beste van my lewe maak.”

Meer oor Koos:

  • “Ek is lief vir my plante,” sê Koos. Die potplante voor hulle deur is sy trots en hy gesels graag met hulle.
  • Hy is mal oor kook en maak elke aand vir die mense in sy huis kos.
  • Koos vertel hy is ʼn mengsel van ʼn introvert en ekstrovert. “Ek hou van my eie spasie maar ek is altyd game vir something new. Ek sê maklik: ‘Throw in the boots, let’s go!’”
  • Hy het destyds kursusse in verkope, kommunikasie en kantooradministrasie voltooi.
  • Koos is ook mal oor fotografie. Hy het graag foto’s van die natuur en mense geneem, tot sy kamera ʼn paar jaar gelede gesteel is.