Home » Interne nuusbrief » Laat ‘n Ligspoor – Pieter

Laat ‘n Ligspoor – Pieter

“Ek gaan weer kind word,” sê dr Pieter

“Dr Pieter” groet binnekort ná amper 11 jaar aan die stuur van Bybel-Media. “Om weer kind te word, op die vloer te kruip en stories te vertel” vir klein Emily, sy kleinkind, is van die dinge waarna hy uitsien. Conette le Roux het hom uitgevra oor wat ná sy aftrede voorlê.

“Ek gaan weer kind word. Op die vloer kruip. Stories vertel,” sê dr Pieter Fourie.

Hier waar hy in sy swart leerstoel aan die stuur van Bybel-Media sit, dink hy vandag oor sy amper-aftrede. Meer tyd saam met sy eenjarige kleindogter, Emily, maak hom veral opgewonde.

Pieter trek sy kantoordeur in die Ferguson-gebou vir die laaste keer op 15 Desember – ná 10 jaar en 11 maande diens – toe.

Enige planne wat wink in die toekoms? Hy dink ʼn oomblik en sê dan hy gaan antwoord soos Amanda Strydom ná haar 60ste verjaarsdag in ʼn onlangse TV-onderhoud op dié vraag geantwoord het: “Ek gaan asemhaal.” Hy sê hy moet nou eers sien wat wag.

Maar dan tog: “Ek sien uit dat ek kan opstaan wanneer ek uitgeslaap is. Sonder ʼn wekker. En om te dink aan al die lekker dinge wat ek kan doen wat my nie stres nie!”

Gaan hy steeds sy hart vir mense aan die rand van die samelewing uitleef? “Sulke goed beplan ʼn mens mos nie – dit kom oor jou pad. As jy ʼn sekere DNS het, kom dit nóg meer oor jou pad.”

Sy vrou, Liz, het reeds in 2015 as arbeidsterapeut afgetree en hy deel eers wat sý veral deesdae doen. “Sy het ʼn naaimasjien gekoop vir dieselfde prys as wat ek vir ʼn kar sou betaal. Sy sou die laaste geld gaan aflos het ná sy haar aftreegeld gekry het. Ek het gaan konkel by die Bernina-winkel en die oggend van haar verjaarsdag, op 18 Oktober verlede jaar, toe staan die masjien reeds daar.”

Pieter en sy vrou gaan nou meer tyd hê om aan die Weskus te gaan ontspan. “Ons ry graag fiets op die strand in Elandsbaai. Dis nogal romanties, veral as dit mistig is,” sê hy met ʼn vonkel in die oog.

“En ons kinders maak ons gelukkig,” sê Pieter oor sy seun Alex (30), die grootbaas van Wefix, en sy dogter Paula (34), alt-violis vir die Kaapse Filharmoniese orkes en ma van Emily.

Ons gesels weer oor sy loopbaan by Bybel-Media en hy vertel daar is tog dinge wat hy anders sou wou doen. “Ek sou in ʼn vroeër stadium daarvoor gewerk het dat die personeel almal besef ons is nie in die eerste plek vriende nie, maar kollegas wat saamgebind word deur die ideale en waardes van die organisasie.” Hy verduidelik dat dit byvoorbeeld nie help iemand is vriendelik en jou vriend, maar kan sy of haar taak nie voldoende uitvoer nie.

Hy het ʼn laaste droom vir Bybel-Media: “My wens is dat alle personeel altyd so uiters toegewy sal wees soos hulle nou is. En dat my opvolger, Leon, dit daarom net so sal geniet om die spanleier te wees.”

Kollegas onthou …

Hy is ongelooflik georganiseerd en alles is op sy plek. Hy soek niks!

Sy omgee vir mense wat swaarkry.

Sy goeie finansiële bestuursvermoëns.

Ek sal Pieter altyd onthou vir sy passie vir ons taal ­– Afrikaans.

Oop hart, mense-mens!

Hy het my baie beïndruk met sy intelligensie. En sy korrekte taalgebruik sal my bybly.