Laat ‘n Ligspoor – Pieter

“Ek gaan weer kind word,” sê dr Pieter

“Dr Pieter” groet binnekort ná amper 11 jaar aan die stuur van Bybel-Media. “Om weer kind te word, op die vloer te kruip en stories te vertel” vir klein Emily, sy kleinkind, is van die dinge waarna hy uitsien. Conette le Roux het hom uitgevra oor wat ná sy aftrede voorlê.

“Ek gaan weer kind word. Op die vloer kruip. Stories vertel,” sê dr Pieter Fourie.

Hier waar hy in sy swart leerstoel aan die stuur van Bybel-Media sit, dink hy vandag oor sy amper-aftrede. Meer tyd saam met sy eenjarige kleindogter, Emily, maak hom veral opgewonde.

Pieter trek sy kantoordeur in die Ferguson-gebou vir die laaste keer op 15 Desember – ná 10 jaar en 11 maande diens – toe.

Enige planne wat wink in die toekoms? Hy dink ʼn oomblik en sê dan hy gaan antwoord soos Amanda Strydom ná haar 60ste verjaarsdag in ʼn onlangse TV-onderhoud op dié vraag geantwoord het: “Ek gaan asemhaal.” Hy sê hy moet nou eers sien wat wag.

Maar dan tog: “Ek sien uit dat ek kan opstaan wanneer ek uitgeslaap is. Sonder ʼn wekker. En om te dink aan al die lekker dinge wat ek kan doen wat my nie stres nie!”

Gaan hy steeds sy hart vir mense aan die rand van die samelewing uitleef? “Sulke goed beplan ʼn mens mos nie – dit kom oor jou pad. As jy ʼn sekere DNS het, kom dit nóg meer oor jou pad.”

Sy vrou, Liz, het reeds in 2015 as arbeidsterapeut afgetree en hy deel eers wat sý veral deesdae doen. “Sy het ʼn naaimasjien gekoop vir dieselfde prys as wat ek vir ʼn kar sou betaal. Sy sou die laaste geld gaan aflos het ná sy haar aftreegeld gekry het. Ek het gaan konkel by die Bernina-winkel en die oggend van haar verjaarsdag, op 18 Oktober verlede jaar, toe staan die masjien reeds daar.”

Pieter en sy vrou gaan nou meer tyd hê om aan die Weskus te gaan ontspan. “Ons ry graag fiets op die strand in Elandsbaai. Dis nogal romanties, veral as dit mistig is,” sê hy met ʼn vonkel in die oog.

“En ons kinders maak ons gelukkig,” sê Pieter oor sy seun Alex (30), die grootbaas van Wefix, en sy dogter Paula (34), alt-violis vir die Kaapse Filharmoniese orkes en ma van Emily.

Ons gesels weer oor sy loopbaan by Bybel-Media en hy vertel daar is tog dinge wat hy anders sou wou doen. “Ek sou in ʼn vroeër stadium daarvoor gewerk het dat die personeel almal besef ons is nie in die eerste plek vriende nie, maar kollegas wat saamgebind word deur die ideale en waardes van die organisasie.” Hy verduidelik dat dit byvoorbeeld nie help iemand is vriendelik en jou vriend, maar kan sy of haar taak nie voldoende uitvoer nie.

Hy het ʼn laaste droom vir Bybel-Media: “My wens is dat alle personeel altyd so uiters toegewy sal wees soos hulle nou is. En dat my opvolger, Leon, dit daarom net so sal geniet om die spanleier te wees.”

Kollegas onthou …

Hy is ongelooflik georganiseerd en alles is op sy plek. Hy soek niks!

Sy omgee vir mense wat swaarkry.

Sy goeie finansiële bestuursvermoëns.

Ek sal Pieter altyd onthou vir sy passie vir ons taal ­– Afrikaans.

Oop hart, mense-mens!

Hy het my baie beïndruk met sy intelligensie. En sy korrekte taalgebruik sal my bybly.

Laat ‘n Ligspoor – Claudine

Ons bereik mense – selfs op ‘n ashoop

‘n Donasie-strokie van Bybel-Media op ʼn ashoop het jare gelede ʼn vrou geïnspireer om ʼn verskil te maak. Dié storie inspireer vandag steeds vir Claudine Abrahams, wat aan die stuur van Bybel-Media se versendingsafdeling staan.

 “Al is dit hoe eenvoudig wat ons doen, ons bereik báie mense,” sê Claudine Abrahams (50) wat Bybel-Media se versendingsafdeling bestuur.

Sy onthou ʼn storie wat haar al jare lank aanspoor: “Jare gelede, toe ek nog by fondswerwing gewerk het, het ʼn vrou ʼn donasie-strokie op ʼn ashoop gekry. Só het sy van die destydse Bybelkor te hore gekom en besluit om geld te skenk. Sy wou graag ʼn verskil maak. Dít wys mos vir my wat ons doen, maak saak. En dit bereik duisende mense.”

Sedert 2009 is sy nie meer by die fondswerwingsafdeling betrokke nie. Sy stuur deesdae dié afdeling se donasiebriewe tydens veldtogte uit. “Ek is baie lief vir fondswerwing. Ek weet dis die hartklop van Bybel-Media,” sê sy. Sy sorg ook dat Kerkbode en LiG hulle intekenare bereik.

“Ek help ook buite-instansies met hulle verpakking en versending. En ek hanteer die replisering van DVD’s en CD’s,” vertel Claudine. Sy en sewe tydelike dames wat soos nodig heel onder in die Ferguson-gebou flink materiaal kom verpak.

Sophia Klaaste (46), een van die sewe verpakkingsdames, sê dit is vir haar so lekker om by Bybel-Media te werk. “Dis veral lekker om LiG te verpak. Daar is altyd iets inspirerend wat ek raaklees. Om te dink dit bereik iemand …”

Willemien Snyders (40) is al 15 jaar by die verpakking van materiaal by Bybel-Media betrokke. “Ek geniet dit baie. Jy kan mos nou dink, as dit nie so was nie, sou ek lankal iets anders gesoek het. Ek stap aan die einde van die dag altyd ʼn beter mens hier uit omdat ek iets bemoedigend gelees het. Veral die stukkies in die Groei-nuusbrief is vir my spesiaal.”

Claudine beaam dié dames se gevoel oor hulle werkplek. “Dit is vir my baie spesiaal om by BM te werk. Ek wil nêrens anders werk nie,” sê sy.

En wat lê haar na aan die hart wanneer sy by Bybel-Media se gebou uitstap?

Claudine se oë blink wanneer sy van haar familie vertel. Sy is al 27 jaar getroud met Milton (55) en hulle het twee kinders – Lezahn (27) en Clinton (24). En dan is daar haar kleinkinders. Lezahn se tweeling, Liam en Landon, is 2 en Clinton se dogtertjie, Cyler, is 5.

Haar ander groot liefde is rugby. “Ek is ʼn groot Stormer. Ek en my man gaan gereeld Nuweland toe,” vertel sy. Sy vertel terloops sy was ook die Bolandse judospan se bestuurder toe haar seun nog op skool was.

In 2015 het die gesondheidsgogga haar gebyt, lag sy. “Ek is met insulien-weerstandigheid gediagnoseer. Toe is ek na ʼn dieetkundige vir ʼn geskikte eetplan. Hierna het ek 23 kg verloor,” vertel sy trots.

“Ek het die wêreld se energie sedert ek gewig verloor het.”

Na ʼn onlangse knie-operasie neem sy dit nou nog ʼn stappie verder. “Ek eet nou geen brood nie en volg ʼn strenger eetplan. In 2015 was ek by ʼn fiksheidsklub, maar met my knie oefen ek nou by Curves. Ek het vanjaar ook die Spar Ladies Walk gestap!

“Watch this space. As ek nog 20 kg afgooi, maak ek my hare blond!”