Laat ‘n Ligspoor – Koos

koos-foto

‘God het dié werk vir my gegee’

By Bybel-Media is daar al sowat ʼn jaar en ʼn half ʼn man in ʼn denim voorskoot wat onder andere sorg vir skoon skottelgoed. “Ek glo God het dié werk vir my gegee omdat ek hier moet wees. Tussen al die Bybels en die Christelike boeke …”  sê Koos Petersen, Bybel-Media se skoonmaker. Conette le Roux het met hom gesels.

Elke oggend net na 6:00 val Koos Petersen (53) in die pad na Bybel-Media. Hy stap vanaf die plaas Koplande, buite Wellington, om vroegoggend op sy pos as skoonmaker in die Ferguson-gebou te wees.

In die winter was dit nog pikdonker wanneer hy begin skottelgoed was, drommetjies uitgooi en handdoeke en vadoeke vervang het.

“Ek was in die begin lekker bang. Hanno terg my gereeld oor tannie Ferguson wat hier ronddwaal!

“Nou is dit darem al vroegoggend lig. Wanneer ek wegstap by die huis kan ek alreeds die pragtige uitsig vanaf ons voordeur bewonder. Dis die mooiste gesig wat jy kán kry,” sê Koos.

Koos woon saam met sy jonger broer, Charles, sy ma se broer “oupa Dirk” (78) en sy neef, Anthony. Sy ma, Lena (75), het tot onlangs ook by hulle gewoon, maar het na ʼn beroerte na Koos se ouer broer verhuis, omdat hy bedags tuis is en haar kan versorg.

Koos het op 1 April 2015 by Bybel-Media begin werk. Hy vertel dat hy aanvanklik nie geweet het waar om te vat, en waar om te los in die groot ou gebou nie. Maar gelukkig het Marí Joubert en Jeannette Swart vir hom ʼn rooster uitgewerk en vir hom wenke gegee, sê hy.

“Ek het báie geleer. Ook hoe om skoonmaak te geniet.

“En ek was aanvanklik skepties oor al die mense in die gebou. Maar ek is nou gek oor die mense. Ek staan nou op om te kom werk!”

Koos dink terug oor sy lewe voor Bybel-Media. Daar was goeie tye, maar ook swaarkry.

Sy eerste werk was by Volkskas, waar hy 15 jaar gewerk het. Eers as bode en later as administratiewe klerk. Hy het ook by Standard Bank gewerk, maar is afgelê toe hulle “mense moes minder maak”. Hy vertel: “Ongelukkig was dit last in, first out”.

Daarna het Koos vir vyf jaar gesukkel om werk te kry. “Ek het toe vrywilligerswerk by Kansa, Child Welfare en LoveLife gedoen om besig te bly.”

Koos vertel hy het uiteindelik tydelike werk by Koplande se kleuterskool gekry. “Ek het dit vreeslik geniet om met die kindertjies te werk,” sê Koos.

Toe het ʼn werk as kassier in Vredenburg gevolg. “Maar die mense daar was so onvriendelik gewees. Ek kon nie daar bly nie,” sê hy. In dié tyd het hy van die werk by Bybel-Media gehoor en aansoek gedoen.

“Ek glo God het dié werk vir my gegee omdat ek hier moet wees. Tussen al die Bybels en die Christelike boeke.

“Ek wil weer die ou Koos wees soos toe ek was voor ek sonder werk gesit het. Ek het ʼn motor gehad en my eie woonstel in Malanstraat gehuur.

“Van hier af wil ek net vorentoe kyk en die beste van my lewe maak.”

Meer oor Koos:

  • “Ek is lief vir my plante,” sê Koos. Die potplante voor hulle deur is sy trots en hy gesels graag met hulle.
  • Hy is mal oor kook en maak elke aand vir die mense in sy huis kos.
  • Koos vertel hy is ʼn mengsel van ʼn introvert en ekstrovert. “Ek hou van my eie spasie maar ek is altyd game vir something new. Ek sê maklik: ‘Throw in the boots, let’s go!’”
  • Hy het destyds kursusse in verkope, kommunikasie en kantooradministrasie voltooi.
  • Koos is ook mal oor fotografie. Hy het graag foto’s van die natuur en mense geneem, tot sy kamera ʼn paar jaar gelede gesteel is.

Laat ‘n Ligspoor – Hanneke

hanneke-foto‘Ek werk vir die Here’

Artikel deur Conette le Roux. Foto: Dan de Koker.

Hanneke Groenewald verkies om in haar hoekie met haar werk doenig te wees. “Ek werk met getalle, dis my ding,” sê sy. Maar, elke bankstaat wat sy nagaan, betaling wat sy doen of verlofvorm wat sy tussendeur aanstuur is “vir die Here”.

Wanneer jy by Hanneke Groenewald (37) se kantoor instap val die blou, groen, oranje en geel lêers wat haar in netjiese rye teen die muur omring, jou op. Fakture en bankstate, in omslae gerangskik, haar lessenaar vol.

“Ek werk met getalle, dis my ding,” sê Hanneke, assistent-rekenmeester by Bybel-Media die afgelope agt jaar.

Die kleure van die lêers dui aan vir hoeveel maatskappye onder die Bybel-Media-sambreel se “getalle” sy verantwoordelik is. Blou vir Tydskriftemaatskappy, groen vir dié wat direk onder Bybel-Media val, oranje vir FLAM en geel vir Nehemia Bybelinstituut.

UIF, bankstate, debiteure, krediteure en betalings, en die boekhou van elke Bybel-Media-werknemer se verlof, is alles deel van haar dagtaak.

“Ondersteuningsdienste”, word die finansies-departement genoem. Administratiewe ondersteuning vir van bo in die Ferguson-gebou vir publikasies en tronkbediening tot onder op die onderste vloer by Bybel-Media Handel. Sou sy nie dalk ook in die voorste linies van hierdie afdelings wou werk nie? “Nee!” sê sy, sy verkies dit om agter die skerms te werk.

“Ek verkies om in my hoekie met my werk doenig te wees. Soos ek vir dr Pieter gesê het toe ek vir my onderhoud destyds gekom het: ‘Ek werk nogsteeds vir die Here, al doen ek finansies.’ Ons elkeen het ons plekkie waar ons pas.”

Voorheen was Hanneke onderwyser in handelsvakke soos rekeningkunde en ekonomie by La Rochelle-meisieskool in die Paarl. Voor dit het sy ook dieselfde vakke by ʼn paar ander skole aangebied. Maar sy het nie tuis gevoel nie. “As jy ʼn onderwyser is en besef die admin is vir jou die hoogtepunt van ʼn dag by die skool, dan weet jy jy is in die verkeerde beroep.

“Maar dit was nie ʼn mors van tyd nie. Ek het baie geleer. Ek was voorheen baie teruggetrokke, maar om onderwyser te wees het my selfvertroue gegee,” vertel Hanneke.

Ten spyte van haar voorkeur om in haar kantoor en met syfers doenig te wees, is haar gunsteling-deel van haar werk by Bybel-Media, steeds haar kollegas.

“Kollegas in Finansies, en ook ander afdelings, ondersteun mekaar as nodig, is saam bly oor die positiewe dinge in mekaar se lewe. Almal dink nie net aan hulself en probeer hulself verryk nie. Ons kan in liefde van mekaar verskil en weet as ’n maatskappy wat dit ten doel stel om getrou aan die Woord van Jesus te lewe, ons saam as kinders van hom kan funksioneer.

“Ek het met my troue gesien hoe almal saam met my bly is en my ondersteun. Dit was wonderlik.”

Toe sy oor dié “spesiaalste dag in haar lewe” begin gesels, lag sy dat haar oë op skrefies trek. “Dis so lekker om getroud te wees,” sê sy. Tydens ons gesprek is dit net ʼn paar dae sedert mejuffrou van Lill as mevrou Groenewald teruggekeer het.

Sy vertel van hulle spesiale dag op 1 Oktober toe sy ewige trou aan Gerrit in die NG gemeente Kuilsrivier beloof het. “Ds Helené Fouche het dit reggekry om ons albei se gunsteling-Bybeltekste te kombineer. Jesaja 43 vir my en Psalm 1 vir Gerrit. Sy het so gesels-gesels die seremonie gedoen, sonder om dit soos ʼn preek te laat klink.

“En toe ek weer sien, is ons getroud!”

Meer oor Hanneke

  • Haar motto: “Ek wil ten alle tye optree soos ’n kind van die Here, al is dit soms moeilik.”
  • Sy het ʼn onderwysgraad, maar het intussen laasjaar ʼn B Compt-graad by Unisa verwerf.
  • Sy is in Bloemfontein gebore.
  • Sy (en haar man, Gerrit) is baie lief vir die see.

Laat ‘n Ligspoor – Sonja-Marié

Foto: Hanno Coetzee

Gee sonder onthou

Sonja-Marié Brand, LiG se kantoorkoördineerder, hou haar deesdae veral besig met ʼn “hartsprojek”. Dié projek is inderdaad propvol hart en moedig lesers aan om met “iets kleins” ʼn “reuse-verskil” in iemand se lewe te gaan maak. Vra maar kankerlyers, gevangenes en minderbevoorregte vroue. Conette le Roux het met Sonja-Marie gesels.

As jy die afgelope paar uitgawes van LiG oopmaak tref die omgee-projekte jou: 30 vroue wat met ʼn handsak en benodigdhede geseën is en ʼn projek waarin ʼn kanker-oorwinnaar wys hoe jy steeds mooi kan lyk op jou kankerpad om maar ʼn paar te noem.

Sonja-Marié Brand (32), kantoorkoördineerder vir LiG, is die dryfveer agter dié Idees met hart-projekte wat deesdae in LiG verskyn.

Sonja-Marie noem dit ʼn “hartsprojek”. “Dit gee aan soveel lidmate, selgroepe, instansies en individue idees oor hoe om iets vir iemand anders te beteken. Dit is nie groot projekte nie, dit is iets kleins wat ʼn reuse-verskil in iemand se lewe kan maak. Soos byvoorbeeld die handsak-projek – ons almal het ou handsakke, maar daar ís mense wat nie eers een het nie.”

Die Idees met hart-projek in die Oktober-uitgawe lê Sonja-Marié veral na aan die hart. Maggie King (32), ma van twee klein dogtertjies, deel hierin haar swaar pad met borskanker, maar veral hoe sy steeds mooi wou lyk na chemobehandeling en haarverlies. Maggie, wat nog altyd ʼn tulband wou dra, gee wenke om soos baie Afrika-vroue ʼn serp om jou kop te draai, hoogte met ʼn sponsie te verkry en ook nie van die grimeerkwassies te vergeet nie. Sonja-Marié het met ʼn selgroep geskakel wat geskenkpakkies gevul het met onder meer serpe sodat 50 kankerlyers hulleself mooi kan tooi, ten spyte van hulle swaarkry.

“Die Oktober-projek was vir my baie spesiaal, omdat ons ʼn kankerpad met my ma gestap het en ek ook klein kindertjies het kan ek met Maggie se pyn en seer assosieer. Ek dink die projek gaan baie kankerpasiënte help om steeds mooi te lyk en te voel,” sê Sonja-Marié.

Die volgende projek, wat in die Desember-uitgawe verskyn, is ʼn Kerskaartjie-projek met báie hart. “Wat dié projek so uniek maak is die feit dat volwasse gestremde inwoners van Sunfield Home die kaartjies met soveel liefde en omgee vir gevangenes in tronke inkleur. Die kaartjies het veel meer betekenis as net ʼn gewone Kerskaartjie wat ons in die winkels koop. My hoop is dat dit iets vir die persoon in die tronk gaan beteken. En dat hul Jesus se liefde ervaar, voel en leef … daar waar hulle is,” verduidelik Sonja-Marié.

“Net die gedagte daaraan dat ons inwoners gekies is om deel te kon wees van hierdie projek, het my weer laat dink aan ’n dogtertjie of seuntjie wat sy of haar eerste speelding gekry het. Die opgewondenheid op daardie gesiggies en die feit dat hulle iets vir iemand anders kon beteken. Hulle het hulle harte, siele en onvoorwaardelike liefde, uitgestort met die inkleur van hierdie kaartjies,” vertel Daisy Groenewald, van Sunfield Home.

Sonja-Marié dra ʼn spesiale aanhaling na aan haar hart wanneer sy oor dié projekte praat en dink: “Geseënd is hulle wat kan gee sonder om te onthou, en kan ontvang sonder om te vergeet.”

Sy sê: “Al verander ʼn projek een mens se lewe, is ek gelukkig.”

En om ander gelukkig te laat – veral haar hartsmense – is hoekom sy in die oggend uit haar bed, op ʼn plaas teen Paardeberg, opstaan. “Die glimlag op my naaste se gesig, veral as ek iets vir iemand kon beteken, maar my twee pragtige seuntjies se glimlaggies en gelukkige hartjies laat my veral blom!” Ook as sy in die aand vir haar gesin ʼn lekker bord kos op die tafel kan sit, sê sy.

“My groot passie is om die beste mamma te wees wat ek kan wees … dit is vir my ʼn leefstyl! Ek hou van bederf en om ander mense gelukkig te maak. Ek dink geluk begin by jouself, en dan kan jy dit soveel beter deel met ander,” sê Sonja-Marié.

Sonja-Marié se hart:

  • Haar twee seuntjies, HJ (3) en Jurgens (2) is haar hart se punte.
  • Haar man, Danie, is haar “veilige hawe, die persoon na die Here by wie ek rustig word en my hartsdinge deel”.
  • Sy is mal oor mooigoed en daarom ook ʼn effense “shopaholic”, erken sy.
  • Sy is ʼn familiemens.
  • Sy is áltyd op ʼn drafstap.

Laat ‘n Ligspoor – Nkululeko

Om God en jou gemeenskap te dien

leko-fotoAs jy Nehemia Bybelinstituut se nuwe registrateur, Nkululeko Pelem, na-ure soek sal jy hom waarskynlik saam met sy drie dogtertjies vind, met musiek wat in die agtergrond speel. Maar bedags dien hy God deur sowat 700 “kerkleiers” landwyd met hulle studies te ondersteun. Conette le Roux het bietjie met hom gesels.

Wat het Michael Jackson, ʼn goeie biefstuk en ʼn stylvolle paar skoene in gemeen?

Dít alles is gunstelinge van Nkululeko Pelem (38), Nehemia Bybelinstituut (NBI), ʼn afdeling van die missionêre bedieninge by Bybel-Media, se nuwe registrateur sedert Januarie 2016.

Nkululeko, wat in Newtown buite Wellington woon, gesels meer oor homself waar hy in sy kantoor – in die Ferguson-gebou in Wellington – sit. Sy stylvolle uitrusting – netjiese punt-skoene, modieuse swart noupyp-langbroek en rooi trui – is opvallend. Sy liefde vir mooi aantrek het hy by sy pa, Sphethwe, geërf, hoor ek later.

Dit is gou duidelik dat sy werk ook by sy lys van gunstelinge gevoeg kan word.

“Mense wat my deur my werk ken dink gewoonlik ek is ʼn spraaksame ou en nie die stil ou wat ek eintlik is nie. Ek is mal daaroor om met mense te werk en my werk daag my persoonlikheid op dié manier uit. Ek geniet dit,” sê hy.

Nog ʼn rede hoekom sy werk vir hom belangrik is, is omdat sy werk hom die geleentheid gee “om God op ʼn ander manier as by die kerk te dien.”

Nkululeko is die skakel tussen die publiek en NBI, wat kursusse in kerkleierskap en bediening-ontwikkeling aanbied. Hy sorg dat meer as 700 studente regoor Suid-Afrika onder andere hulle studiemateriaal en punte ontvang. Onder hierdie studente is Bybelskole se studente wat deur NG gemeentes opgerig word as ʼn manier van uitreik na hulle gemeenskap. Dié studente is dikwels kerkleiers wat geen opleiding voorheen ontvang het nie.

Ds Christo Jonck, leraar by NG gemeente Die Oog in Kuruman, is by so ʼn gemeente. Die afgelope twee jaar bestuur hulle gemeente ʼn Bybelskool in Bathlaros, ʼn informele nedersetting buite Kuruman. Hy vertel sowat 20 pastore van klein kerke in dié omgewing koop hulle handboeke by NBI en hy hanteer die lesse se aanbieding op Saterdae. NBI help hulle om na dié kerkleiers uit te reik en hulle op ʼn sinvolle manier op te lei, sê hy.

En daarom sien Nkululeko sy werk as ʼn manier “om God én ons gemeenskappe te dien”. “Ek voel geëerd om kerkleiers te ondersteun met hulle studies omdat ek weet dat hulle God se werk in ons gemeenskappe doen,” sê hy.

Nog oor Nkululeko

  • Hy het drie dogtertjies Athandwe (9), Aphelele (7) en Amyoli (6).
  • Sy vrou, Faith, is op 28 in 2010 aan hartprobleme oorlede.
  • Hy is mal oor musiek.
  • Hy is oorspronklik van Mthatha.
  • Hy is besig met sy laaste semester van ʼn diploma in finansiële bestuur.
  • Hy droom daarvan om eendag “doktor” voor sy naam te skryf.