Ligspoor: Lida

20161228_100255-1Lida Viljoen het vroeg in Januarie as kantoorkoördineerder by die Tydskriftemaatskappy-span aangesluit. En met haar motto van “Sukses is meestal ʼn saak van uithou en aanhou wanneer ander lankal opgegee het,” kan dit net goed gaan. Conette le Roux het met haar gesels.

 As jy ʼn nuwe gesig in die LiG-kantoor opmerk is dit nie jou oë wat jou bedrieg nie. Lida Viljoen het vroeg in Januarie vanjaar by Tydskriftemaatskappy as kantoorkoördineerder aangesluit.

Sy vertel haar nuwe werk is terselfdertyd vir haar ʼn voorreg en ʼn lekkerte.

“Dit is vir my ʼn baie groot voorreg om my elke dag te omring met mense wat lief is vir die Here en waar ek ook ʼn bydrae kan maak tot sy koninkryk.

“Om te help met die beplanning rondom die tydskrif en idees te gee is veral vir my lekker,” sê sy.

Lida, wat onder andere voorheen administratiewe werk by prokureurs gedoen het, sê sy sien baie uit om kreatief te wees en nuwe mense te ontmoet. En gelukkig is sy tot dusver ook vriendelik ontvang. “Almal is so vriendelik en hulpvaardig en het my so tuis laat voel,” lag sy.

Lida het in Durbanville skoolgegaan en na skool ʼn bestuursassistent-diploma by Boland Kollege in Stellenbosch verwerf. Daarna was sy persoonlike assistent vir ʼn groot maatskappy en het sy ook administratiewe werk by prokureurs gedoen. Sy het selfs ʼn draai in Pretoria gaan maak, maar het sowat ʼn jaar gelede teruggekeer na die Wes-Kaap saam met haar man Francois, ʼn IT-bestuurder.

In haar nuwe pos is Lida vir ’n verskeidenheid van take verantwoordelik. Sy is die vriendelike stem oor die telefoon wanneer lesers na die kantoor bel, sy hou LiG en Kerkbode se inhouds-argief op datum, werf weggees vir LiG, hanteer reisreëlings en ander administratiewe werk.

Opgee is nie in Lida se woordeskat nie en daarom is haar motto: “Sukses is meestal ʼn saak van uithou en aanhou wanneer ander lankal opgegee het.” En met eienskappe soos toegewydheid, opregtheid en betroubaarheid bo-aan haar lysie van belangrikheid, het jy ʼn wen-kombinasie.

Wanneer Lida net na 12:00 in die middag in haar motor klim en huiswaarts keer, is dit na die twee mensies wat haar die gelukkigste maak en baie laat lag – agt maande oue Leah en drie-jarige Pierre.

Meer oor Lida

Wat maak jou gelukkig? Enige dag saam met my gesin en familie.

En hartseer? Wreedheid teenoor kinders en diere.

Stokperdjies? Wanneer ek tyd kry, maak ek rokkies vir dogtertjies en ander kindergoedjies.

Gunsteling Bybel-teks? Psalm 139:1-6

Gunsteling-kleur? Turkoois

Interessante feit? My pa en broer is albei predikante, en het die naam Gawie Gouws.

Laat ‘n Ligspoor – Pieter

“Ek gaan weer kind word,” sê dr Pieter

“Dr Pieter” groet binnekort ná amper 11 jaar aan die stuur van Bybel-Media. “Om weer kind te word, op die vloer te kruip en stories te vertel” vir klein Emily, sy kleinkind, is van die dinge waarna hy uitsien. Conette le Roux het hom uitgevra oor wat ná sy aftrede voorlê.

“Ek gaan weer kind word. Op die vloer kruip. Stories vertel,” sê dr Pieter Fourie.

Hier waar hy in sy swart leerstoel aan die stuur van Bybel-Media sit, dink hy vandag oor sy amper-aftrede. Meer tyd saam met sy eenjarige kleindogter, Emily, maak hom veral opgewonde.

Pieter trek sy kantoordeur in die Ferguson-gebou vir die laaste keer op 15 Desember – ná 10 jaar en 11 maande diens – toe.

Enige planne wat wink in die toekoms? Hy dink ʼn oomblik en sê dan hy gaan antwoord soos Amanda Strydom ná haar 60ste verjaarsdag in ʼn onlangse TV-onderhoud op dié vraag geantwoord het: “Ek gaan asemhaal.” Hy sê hy moet nou eers sien wat wag.

Maar dan tog: “Ek sien uit dat ek kan opstaan wanneer ek uitgeslaap is. Sonder ʼn wekker. En om te dink aan al die lekker dinge wat ek kan doen wat my nie stres nie!”

Gaan hy steeds sy hart vir mense aan die rand van die samelewing uitleef? “Sulke goed beplan ʼn mens mos nie – dit kom oor jou pad. As jy ʼn sekere DNS het, kom dit nóg meer oor jou pad.”

Sy vrou, Liz, het reeds in 2015 as arbeidsterapeut afgetree en hy deel eers wat sý veral deesdae doen. “Sy het ʼn naaimasjien gekoop vir dieselfde prys as wat ek vir ʼn kar sou betaal. Sy sou die laaste geld gaan aflos het ná sy haar aftreegeld gekry het. Ek het gaan konkel by die Bernina-winkel en die oggend van haar verjaarsdag, op 18 Oktober verlede jaar, toe staan die masjien reeds daar.”

Pieter en sy vrou gaan nou meer tyd hê om aan die Weskus te gaan ontspan. “Ons ry graag fiets op die strand in Elandsbaai. Dis nogal romanties, veral as dit mistig is,” sê hy met ʼn vonkel in die oog.

“En ons kinders maak ons gelukkig,” sê Pieter oor sy seun Alex (30), die grootbaas van Wefix, en sy dogter Paula (34), alt-violis vir die Kaapse Filharmoniese orkes en ma van Emily.

Ons gesels weer oor sy loopbaan by Bybel-Media en hy vertel daar is tog dinge wat hy anders sou wou doen. “Ek sou in ʼn vroeër stadium daarvoor gewerk het dat die personeel almal besef ons is nie in die eerste plek vriende nie, maar kollegas wat saamgebind word deur die ideale en waardes van die organisasie.” Hy verduidelik dat dit byvoorbeeld nie help iemand is vriendelik en jou vriend, maar kan sy of haar taak nie voldoende uitvoer nie.

Hy het ʼn laaste droom vir Bybel-Media: “My wens is dat alle personeel altyd so uiters toegewy sal wees soos hulle nou is. En dat my opvolger, Leon, dit daarom net so sal geniet om die spanleier te wees.”

Kollegas onthou …

Hy is ongelooflik georganiseerd en alles is op sy plek. Hy soek niks!

Sy omgee vir mense wat swaarkry.

Sy goeie finansiële bestuursvermoëns.

Ek sal Pieter altyd onthou vir sy passie vir ons taal ­– Afrikaans.

Oop hart, mense-mens!

Hy het my baie beïndruk met sy intelligensie. En sy korrekte taalgebruik sal my bybly.

Laat ‘n Ligspoor – Claudine

Ons bereik mense – selfs op ‘n ashoop

‘n Donasie-strokie van Bybel-Media op ʼn ashoop het jare gelede ʼn vrou geïnspireer om ʼn verskil te maak. Dié storie inspireer vandag steeds vir Claudine Abrahams, wat aan die stuur van Bybel-Media se versendingsafdeling staan.

 “Al is dit hoe eenvoudig wat ons doen, ons bereik báie mense,” sê Claudine Abrahams (50) wat Bybel-Media se versendingsafdeling bestuur.

Sy onthou ʼn storie wat haar al jare lank aanspoor: “Jare gelede, toe ek nog by fondswerwing gewerk het, het ʼn vrou ʼn donasie-strokie op ʼn ashoop gekry. Só het sy van die destydse Bybelkor te hore gekom en besluit om geld te skenk. Sy wou graag ʼn verskil maak. Dít wys mos vir my wat ons doen, maak saak. En dit bereik duisende mense.”

Sedert 2009 is sy nie meer by die fondswerwingsafdeling betrokke nie. Sy stuur deesdae dié afdeling se donasiebriewe tydens veldtogte uit. “Ek is baie lief vir fondswerwing. Ek weet dis die hartklop van Bybel-Media,” sê sy. Sy sorg ook dat Kerkbode en LiG hulle intekenare bereik.

“Ek help ook buite-instansies met hulle verpakking en versending. En ek hanteer die replisering van DVD’s en CD’s,” vertel Claudine. Sy en sewe tydelike dames wat soos nodig heel onder in die Ferguson-gebou flink materiaal kom verpak.

Sophia Klaaste (46), een van die sewe verpakkingsdames, sê dit is vir haar so lekker om by Bybel-Media te werk. “Dis veral lekker om LiG te verpak. Daar is altyd iets inspirerend wat ek raaklees. Om te dink dit bereik iemand …”

Willemien Snyders (40) is al 15 jaar by die verpakking van materiaal by Bybel-Media betrokke. “Ek geniet dit baie. Jy kan mos nou dink, as dit nie so was nie, sou ek lankal iets anders gesoek het. Ek stap aan die einde van die dag altyd ʼn beter mens hier uit omdat ek iets bemoedigend gelees het. Veral die stukkies in die Groei-nuusbrief is vir my spesiaal.”

Claudine beaam dié dames se gevoel oor hulle werkplek. “Dit is vir my baie spesiaal om by BM te werk. Ek wil nêrens anders werk nie,” sê sy.

En wat lê haar na aan die hart wanneer sy by Bybel-Media se gebou uitstap?

Claudine se oë blink wanneer sy van haar familie vertel. Sy is al 27 jaar getroud met Milton (55) en hulle het twee kinders – Lezahn (27) en Clinton (24). En dan is daar haar kleinkinders. Lezahn se tweeling, Liam en Landon, is 2 en Clinton se dogtertjie, Cyler, is 5.

Haar ander groot liefde is rugby. “Ek is ʼn groot Stormer. Ek en my man gaan gereeld Nuweland toe,” vertel sy. Sy vertel terloops sy was ook die Bolandse judospan se bestuurder toe haar seun nog op skool was.

In 2015 het die gesondheidsgogga haar gebyt, lag sy. “Ek is met insulien-weerstandigheid gediagnoseer. Toe is ek na ʼn dieetkundige vir ʼn geskikte eetplan. Hierna het ek 23 kg verloor,” vertel sy trots.

“Ek het die wêreld se energie sedert ek gewig verloor het.”

Na ʼn onlangse knie-operasie neem sy dit nou nog ʼn stappie verder. “Ek eet nou geen brood nie en volg ʼn strenger eetplan. In 2015 was ek by ʼn fiksheidsklub, maar met my knie oefen ek nou by Curves. Ek het vanjaar ook die Spar Ladies Walk gestap!

“Watch this space. As ek nog 20 kg afgooi, maak ek my hare blond!”

Laat ‘n Ligspoor – Koos

koos-foto

‘God het dié werk vir my gegee’

By Bybel-Media is daar al sowat ʼn jaar en ʼn half ʼn man in ʼn denim voorskoot wat onder andere sorg vir skoon skottelgoed. “Ek glo God het dié werk vir my gegee omdat ek hier moet wees. Tussen al die Bybels en die Christelike boeke …”  sê Koos Petersen, Bybel-Media se skoonmaker. Conette le Roux het met hom gesels.

Elke oggend net na 6:00 val Koos Petersen (53) in die pad na Bybel-Media. Hy stap vanaf die plaas Koplande, buite Wellington, om vroegoggend op sy pos as skoonmaker in die Ferguson-gebou te wees.

In die winter was dit nog pikdonker wanneer hy begin skottelgoed was, drommetjies uitgooi en handdoeke en vadoeke vervang het.

“Ek was in die begin lekker bang. Hanno terg my gereeld oor tannie Ferguson wat hier ronddwaal!

“Nou is dit darem al vroegoggend lig. Wanneer ek wegstap by die huis kan ek alreeds die pragtige uitsig vanaf ons voordeur bewonder. Dis die mooiste gesig wat jy kán kry,” sê Koos.

Koos woon saam met sy jonger broer, Charles, sy ma se broer “oupa Dirk” (78) en sy neef, Anthony. Sy ma, Lena (75), het tot onlangs ook by hulle gewoon, maar het na ʼn beroerte na Koos se ouer broer verhuis, omdat hy bedags tuis is en haar kan versorg.

Koos het op 1 April 2015 by Bybel-Media begin werk. Hy vertel dat hy aanvanklik nie geweet het waar om te vat, en waar om te los in die groot ou gebou nie. Maar gelukkig het Marí Joubert en Jeannette Swart vir hom ʼn rooster uitgewerk en vir hom wenke gegee, sê hy.

“Ek het báie geleer. Ook hoe om skoonmaak te geniet.

“En ek was aanvanklik skepties oor al die mense in die gebou. Maar ek is nou gek oor die mense. Ek staan nou op om te kom werk!”

Koos dink terug oor sy lewe voor Bybel-Media. Daar was goeie tye, maar ook swaarkry.

Sy eerste werk was by Volkskas, waar hy 15 jaar gewerk het. Eers as bode en later as administratiewe klerk. Hy het ook by Standard Bank gewerk, maar is afgelê toe hulle “mense moes minder maak”. Hy vertel: “Ongelukkig was dit last in, first out”.

Daarna het Koos vir vyf jaar gesukkel om werk te kry. “Ek het toe vrywilligerswerk by Kansa, Child Welfare en LoveLife gedoen om besig te bly.”

Koos vertel hy het uiteindelik tydelike werk by Koplande se kleuterskool gekry. “Ek het dit vreeslik geniet om met die kindertjies te werk,” sê Koos.

Toe het ʼn werk as kassier in Vredenburg gevolg. “Maar die mense daar was so onvriendelik gewees. Ek kon nie daar bly nie,” sê hy. In dié tyd het hy van die werk by Bybel-Media gehoor en aansoek gedoen.

“Ek glo God het dié werk vir my gegee omdat ek hier moet wees. Tussen al die Bybels en die Christelike boeke.

“Ek wil weer die ou Koos wees soos toe ek was voor ek sonder werk gesit het. Ek het ʼn motor gehad en my eie woonstel in Malanstraat gehuur.

“Van hier af wil ek net vorentoe kyk en die beste van my lewe maak.”

Meer oor Koos:

  • “Ek is lief vir my plante,” sê Koos. Die potplante voor hulle deur is sy trots en hy gesels graag met hulle.
  • Hy is mal oor kook en maak elke aand vir die mense in sy huis kos.
  • Koos vertel hy is ʼn mengsel van ʼn introvert en ekstrovert. “Ek hou van my eie spasie maar ek is altyd game vir something new. Ek sê maklik: ‘Throw in the boots, let’s go!’”
  • Hy het destyds kursusse in verkope, kommunikasie en kantooradministrasie voltooi.
  • Koos is ook mal oor fotografie. Hy het graag foto’s van die natuur en mense geneem, tot sy kamera ʼn paar jaar gelede gesteel is.

Laat ‘n Ligspoor – Hanneke

hanneke-foto‘Ek werk vir die Here’

Artikel deur Conette le Roux. Foto: Dan de Koker.

Hanneke Groenewald verkies om in haar hoekie met haar werk doenig te wees. “Ek werk met getalle, dis my ding,” sê sy. Maar, elke bankstaat wat sy nagaan, betaling wat sy doen of verlofvorm wat sy tussendeur aanstuur is “vir die Here”.

Wanneer jy by Hanneke Groenewald (37) se kantoor instap val die blou, groen, oranje en geel lêers wat haar in netjiese rye teen die muur omring, jou op. Fakture en bankstate, in omslae gerangskik, haar lessenaar vol.

“Ek werk met getalle, dis my ding,” sê Hanneke, assistent-rekenmeester by Bybel-Media die afgelope agt jaar.

Die kleure van die lêers dui aan vir hoeveel maatskappye onder die Bybel-Media-sambreel se “getalle” sy verantwoordelik is. Blou vir Tydskriftemaatskappy, groen vir dié wat direk onder Bybel-Media val, oranje vir FLAM en geel vir Nehemia Bybelinstituut.

UIF, bankstate, debiteure, krediteure en betalings, en die boekhou van elke Bybel-Media-werknemer se verlof, is alles deel van haar dagtaak.

“Ondersteuningsdienste”, word die finansies-departement genoem. Administratiewe ondersteuning vir van bo in die Ferguson-gebou vir publikasies en tronkbediening tot onder op die onderste vloer by Bybel-Media Handel. Sou sy nie dalk ook in die voorste linies van hierdie afdelings wou werk nie? “Nee!” sê sy, sy verkies dit om agter die skerms te werk.

“Ek verkies om in my hoekie met my werk doenig te wees. Soos ek vir dr Pieter gesê het toe ek vir my onderhoud destyds gekom het: ‘Ek werk nogsteeds vir die Here, al doen ek finansies.’ Ons elkeen het ons plekkie waar ons pas.”

Voorheen was Hanneke onderwyser in handelsvakke soos rekeningkunde en ekonomie by La Rochelle-meisieskool in die Paarl. Voor dit het sy ook dieselfde vakke by ʼn paar ander skole aangebied. Maar sy het nie tuis gevoel nie. “As jy ʼn onderwyser is en besef die admin is vir jou die hoogtepunt van ʼn dag by die skool, dan weet jy jy is in die verkeerde beroep.

“Maar dit was nie ʼn mors van tyd nie. Ek het baie geleer. Ek was voorheen baie teruggetrokke, maar om onderwyser te wees het my selfvertroue gegee,” vertel Hanneke.

Ten spyte van haar voorkeur om in haar kantoor en met syfers doenig te wees, is haar gunsteling-deel van haar werk by Bybel-Media, steeds haar kollegas.

“Kollegas in Finansies, en ook ander afdelings, ondersteun mekaar as nodig, is saam bly oor die positiewe dinge in mekaar se lewe. Almal dink nie net aan hulself en probeer hulself verryk nie. Ons kan in liefde van mekaar verskil en weet as ’n maatskappy wat dit ten doel stel om getrou aan die Woord van Jesus te lewe, ons saam as kinders van hom kan funksioneer.

“Ek het met my troue gesien hoe almal saam met my bly is en my ondersteun. Dit was wonderlik.”

Toe sy oor dié “spesiaalste dag in haar lewe” begin gesels, lag sy dat haar oë op skrefies trek. “Dis so lekker om getroud te wees,” sê sy. Tydens ons gesprek is dit net ʼn paar dae sedert mejuffrou van Lill as mevrou Groenewald teruggekeer het.

Sy vertel van hulle spesiale dag op 1 Oktober toe sy ewige trou aan Gerrit in die NG gemeente Kuilsrivier beloof het. “Ds Helené Fouche het dit reggekry om ons albei se gunsteling-Bybeltekste te kombineer. Jesaja 43 vir my en Psalm 1 vir Gerrit. Sy het so gesels-gesels die seremonie gedoen, sonder om dit soos ʼn preek te laat klink.

“En toe ek weer sien, is ons getroud!”

Meer oor Hanneke

  • Haar motto: “Ek wil ten alle tye optree soos ’n kind van die Here, al is dit soms moeilik.”
  • Sy het ʼn onderwysgraad, maar het intussen laasjaar ʼn B Compt-graad by Unisa verwerf.
  • Sy is in Bloemfontein gebore.
  • Sy (en haar man, Gerrit) is baie lief vir die see.
1 2