Description
Eksamennommer
In my matriekjaar het ons ‘n diploma-plegtigheid gehad.
Jy moes vroeg daar wees in jou skoolklere.
Ons is in rye ingedeel.
Ons moes sit voor die mense opdaag.
By dié geleentheid het jy ook jou eksamennommer gekry.
Ek het uitgesien daarna om vorentoe geroep te word. Ek het so gehoop hulle sal daar wees om dit te sien.
Daar was ander mense wat vir my hande geklap het, maar dit het nie saak gemaak nie, want dié mense wie se gesigte ek wou sien, was nie daar nie.
Dit waarvoor ek gehoop, dit waaroor ek gedroom het, het nie waar geword nie.
Soms hoop jy om deur iemand raakgesien te word en dit gebeur nie. Jy nooi hulle elke keer, met die vermoede dat jy weer teleurgestel gaan word.
Wanneer mense ons vertroue breek, is dit moeilik om weer hoop te vind.
Maar een ding het ek geweet: al was hulle nie daar nie, het ek nog steeds my nommer gehad wat vir my toelating tot die eksamen gee.
Die doop gee ons ook toelating – nie tot ‘n eksamen nie, maar tot die lewe.
As ander nie belang stel nie – ek is reeds raakgesien.
As ander my nie innooi nie – ek is reeds deel.
As ander nie dink ek kan ‘n bydrae maak nie – ek is reeds in diens geneem.
Toe een van die kerkvaders verwerping ervaar het, het hy gesê: my hoop lê nie in dit wat ek reggekry het of doen nie, maar in dit wat God gee en belowe.
Mag die doop jou help om te sien dat jy reeds toegelaat is tot God se nuwe familie, dat jy reeds toegang het tot God se nuwe wêreld, waar jy ‘n unieke bydrae het om te maak.Party keer lyk die lewe anders as wat ons dit wil hê. Dinge draai anders uit as wat ons gehoop het. Mense laat ons in die steek. Slegte dinge gebeur. Ons harte word gebreek.
As dit gebeur, is dit moeilik om nog enige iets mooi raak te sien.
Die doop laat ons egter iets anders raaksien. Ons doop maak ons oë oop vir God. Al sien niemand my raak nie – God sien my raak. Al gee niemand vir my erkenning nie – God het by my doop vir my ‘n diploma gegee wat verklaar ek sy geliefde kind is. Al dink niemand ek het iets om te bied nie, gee God vir my my eksamennommer wat sê: Ek het ook ‘n bydrae om te maak in sy koninkryk.