Description
Liedjie
Dalk ken jy dit ook: ‘n liedjie draai in jou kop.
Jy kan dit nie lekker plaas nie; jy’t net ‘n reël of ‘n paar note.
Hoe kom dit in jou kop? Waar kom die liedjie vandaan?
Musiek vat ons terug. Iemand anders het dit geskryf; ander het dit al gesing.
Dalk was die liedjie al daar voor jy gebore is.
Sommige Joodse Rabbi’s het vertel dat die engele vir ons as ongebore babas in die hemel die Tora – God se Woord – leer. Net voordat ons gebore word, raak ‘n engel met ‘n kool ons lippe aan en dan vergeet ons dit weer. Elke keer as jy hierdie verhale in jou lewe teenkom, voel jy: “Ek het dit al iewers gehoor.”
Hierdie verhaal, hierdie lied verbind my aan ander mense wat dit ook sing, al verstaan ek nie heeltemal hoe nie.
Hierdie note is binne en buite my.
Dit is gebore in die Skrywer se hart en gedagtes en dit weerklink in my.
Die Gees sit hierdie lied van God in ander se harte, hulle sing dit, leef dit en skryf dit op. Dan stem dieselfde Gees ons ore en harte in om daardie musiek te hoor en te begin saamsing. Totdat dit ons lied word.
Partykeer sukkel ek.
Ek ken nie die hele liedjie nie
Ek kan nie al die woorde onthou nie.
Ek kry dit nie op my eie gesing nie.
As iemand my net kan help met die note en die ritme,
As ander net wil kom help musiek maak.
Vir gelowiges is Jesus se storie soos ‘n lied wat in jou gedagtes bly draai. Die Heilige Gees hou die note al vir eeue lank lewend. Soms lyk dit asof die wysie wegraak; asof dit by niemand meer vashaak nie – maar die Gees hou aan om die lied te sing!
Omstandighede se geraas kan oorverdowend wees.
Jou pogings kan maar vals klink.
Die ouderdom kan maar al jou onthou kom steel.
Die lied bly.
Een van die plekke waar ons hierdie lied die duidelikste hoor, is in die doop. Hierdie lied word in my doop vir my gesing. Dit leef in gedooptes.
In ons doop word hierdie tydlose lied vir ons gegee. Dit is voor ons al gesing en dit sal lank na ons nog daar wees.
Mag hierdie lied jou nooit los nie.
Mag hierdie lied ons in harmonie bring met mekaar.
Mag hierdie lied jou storie word.
Die lied trek jou in.
Die lied trek ons na mekaar toe.
Die lied het ‘n lewe van sy eie.