Skrywersprofiele

Malan Nel
Professor, dosent en gewilde gasspreker

’n Besonderse professor en gasspreker

Prof. Malan Nel is op Calvinia gebore en het sy doktorsgraad in teologie in 1984 verwerf by die Universiteit Pretoria. Hy is tans ’n professor in Praktiese Teologie met meer as drie dekades van akademiese ervaring.

Jeugbediening is sy besondere pas­sie. Hiervoor kry hy wye erkenning. Hy was van 2001 tot 2005 die voorsitter van die Interna­tio­nal Academy for the study of Youth Ministry. Hy bepleit ’n inklu­siewe benadering tot gemeente waarin alle gemeentebedienings ’n differensiële fokus op die jeug as ’n integrale deel van die gemeente ontwikkel.

Malan dien al sedert 1988 in die NG Kerk. Hy is betrokke by baie gemeentes in Suid-Afrika en het meer as 50 jaar se bedieningservaring. Hy konsulteer ook dikwels by die prosesse van gemeente-ontwikkeling.

Sedert 1993 is hy die stigterdirekteur van die Universiteit Vista se afdeling vir Kontekstuele Bediening. Prof. Nel is ’n gereelde gasspreker en -dosent by universiteite in die buiteland. Sy studietoere vir predikante en teologiestudente na die VSA is wyd bekend.

Hy is die skrywer van talle artikels en boeke, onder meer Jeugbediening (RGN, in die reeks Studies in Praktiese Teologie) en Om uit genade te leef (Struik). Sy boek Gemeentebou is met die Andrew Murray-prys bekroon.

Kyk gerus na sy reeks boeke:

Malan Nel se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Siegfried Louw
‘n Predikant, lewensafrigter en musikant

’n Predikant, lewensafrigter en musikant

Siegfried Louw het grootgeword in Vryheid, KwaZulu-Natal en sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Bellville in die Wes-Kaap voltooi. Na sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch het hy ’n nagraadse kwalifikasie in spelterapie bekom.

Hy is ’n predikant wat ook as lewensafrigter van Transmind SA mense begelei deur fases van verandering. Hy maak graag gebruik van musiek, teater, poppekas en ander kunste om mense nuwe opsies vir die lewe te gee.

Siegfried, voorheen leraar by Brackenfell-Proteahoogte, het onlangs ’n pos aanvaar as Predikant in Sinodale Diens by die Wes-Kaapland Sinode.

Siegfried is ook ’n skrywer van kinderboeke en sy Ligland-reeks is enig in sy soort. Hierdie reeks kinderboeke help jong kinders met verlies, angstigheid, boeliegedrag en alleenheid op maniere wat maklik is om te verstaan.

Met die eenvoudige sketse, taalgebruik en storielyne vang Siegfried kinders se probleme vas sonder om hulle gevoelens van hartseer weg te praat of te ontken. Siegfried se teoretiese kennis en praktiese ervaring as spelterapeut is duidelik sigbaar dwarsdeur h­ierdie reeks. Hierdie boeke is beskikbaar in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Sesotho.

Kyk gerus na sy reeks boeke:

Siegfried Louw en sy Ligland-reeks is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Milanie Vosloo
‘n Skrywer, sakevrou en ma

’n Skrywer, sakevrou en ma. ’n Gewone mens, nes ek en jy.

Jy het sekerlik al van Milanie Vosloo gehoor. Sy is ’n topverkoper-outeur wat deur haar boeke al duisende vroue se lewens verander het.

Met wyse dagstukkies en lieflike gebedeboeke raak sy die harte van haar lesers aan. Milanie se woorde bring inspirasie en hoop omdat sy met opregtheid haar eie lewensondervinding meedeel. Sy verstaan die hart van ’n vrou en gee wyse raad oor hoe om die moeilike dele van die lewe te hanteer.

Nie net is sy ’n vrou vir haar man, Johan Vosloo, en ma vir hulle twee kinders nie, maar sy speel ook ’n groot rol in die sukses van haar eie besigheid, Uppe Marketing. Onder haar leierskap het hierdie advertensiemaatskappy al baie industriepryse gewen. Milanie is ook in 1994 aangewys as Suid-Afrika se Besigheidsvrou van die Jaar.

Boonop is sy ook ’n kolom-skrywer vir LiG en ’n gesogte spreker vir enige geleentheid.

Alhoewel Milanie al baie prestasies behaal het, vind sy haar vreugde daarin om ’n verskil in ander se lewens te maak, en dis presies wat sy regkry met haar skryfwerk. In eenvoudige, maklik verstaanbare taal motiveer, ondersteun en moedig sy jou in geloof aan.

Kyk gerus na haar topverkopers:

Milanie Vosloo se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Lizette Murray
‘n Skrywer, onderwyser en ma

Kom geniet die werke van ’n onderwyser, skrywer en ma.

Lizette Murray skryf soos geen ander skrywer nie. Wanneer jy haar boeke lees, voel dit asof sy jou hart aanraak. Sy skryf in doodgewone taal, onopgesmuk en met ’n teerheid wat jou oopmaak vir die gedagtes wat sy deel. Dít is die tipe leesmateriaal wat jy van hierdie skrywer, onderwyseres en ma van vyf seuns kan verwag.

Haar groot liefdes is woorde, musiek en kinders. Dit is in hierdie rigtings waar sy haar talente ten volle benut. Lizette is medeskrywer van die bekroonde kinderboek Stippe Stappe Stories sowel as die kinderstrokiesprent Bibber Bobbejaantjie.

Verder skryf sy ook tydskrifrubrieke vir LiG en ook vir Lééf met hart en siel, asook inspirerende gebedeboeke vir jong ma’s.

Uit haar pen verskyn ‘n aantal Bybelse musiekblyspele, Die Koms van die Koning, Kanaän toe! en Dawidsfees, asook lirieke vir kore. Maar dis nie al nie. Sy skryf ook kinderboeke wat daarop gemik is om kinders in eenvoudige taal oor God se liefde en die Bybel se waarhede te leer. Op die rakke is ook bundels met kortverhale oor haar lewe: My hart se baie punte en Alfabet van oorvloed is reeds reusetreffers onder lesers.

Kyk gerus na haar topverkopers:

Lizette Murray se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Marius J.Nel
‘n Predikant, skrywer en professor

’n Gewilde predikant, skrywer en professor

Marius Nel is tans ’n professor by die Universiteit Stellenbosch wat spesialiseer in die Nuwe Testament. Voor sy aanstelling as dosent by die Fakulteit Teologie in 2012 was hy vir 18 jaar ’n predikant in Pretoria.

Marius is tans die voorsitter van die Nuwe-Testamentiese Werksgemeenskap van Suider-Afrika en mederedakteur van Scriptura. Hy is ook verbind aan die NG gemeente Oostersee as leraar met die opdrag teologiese opleiding.

In samewerking met Coenie Burger (Marius se oud-studentepredikant) het hy onlangs Ons wil Jesus sien geskryf. Dié boek kyk na die veelkantigheid van Jesus se aardse lewe. Die afgelope tyd is hulle ook saam betrokke by ’n nagraadse kursus waar hulle elkeen uit hulle onderskeie studievelde en perspektiewe gesels oor Jesus. In hierdie gesprekke het hulle opnuut ontdek dat teologie en menswees nie van mekaar losgemaak kan word nie.

Marius skryf ook gereeld teologiese artikels wat in verskeie akademiese joernale gepubliseer word. Sy werk verskyn ook in teologiese handboeke wat op universiteit gebruik word.

Kyk gerus na sy topverkopers:

Marius Nel se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Barend Vos
‘n Predikant en Christenskrywer

’n Predikant en bekroonde Christenskrywer

Dr. Barend Vos is ’n uitstaande Christenskrywer, teksversorger en predikant.

Sy eerste boek verskyn in 1998 en sedertdien het hy al meer as 20 boeke gepubliseer. Hy is veral bekend as die skrywer van Uit die Beek, een van die oudste en gewildste Afrikaanse Bybeldagboeke wat elke jaar uitgereik word. Dr. Vos sien dit as ’n groot eer om hierdie tradisieryke dagboek te kan skryf en hy werk tans aan die volgende uitgawe.

Sy boek Kanaän is ook nou op die rakke beskikbaar en vertel die wonderlike verhaal van die veertigjaarlange woestyntrek na die beloofde land. Dr. Vos se skryfwerk sluit alles in van dagstukkies tot fiksie en romans. Al sy werk is gebaseer op die Bybel.

Hy skryf gereeld rubrieke vir die Volksblad en is selfs bekroon met ’n ATKV-veertjie vir een van sy wonderlike stories wat in LiG-tydskrif gepubliseer is. Sy humoristiese vertellings genaamd Grootseunbriewe illustreer die alledaagse stories van ’n plattelandse dominee en verskyn al sedert Junie 2000 in hierdie tydskrif. Hierdie verhale is ook versamel in geïllustreerde bundels.

In 2001 het Dr. Vos die CBSA-prys vir fiksie gewen en in 2016 is hy bekroon met die gesogte Andrew Murray-prys.

Dr. Barend Vos se gebedeboek uit Psalms, Die ewigheid in my hart, het in 2015 verskyn en is al vier maal herdruk. ie Psalms is geliefde leesstof vir hom wat na sy mening steeds die Bybelleser se hart kan aanraak.

Dr. Vos skryf ook die dagstukkies wat deur Bybel-Media se Boodskap vir Vandag-projek uitgestuur word aan duisende lesers regoor die land. Hierdie elektroniese dagstukkies inspireer en bemoeding mense op hulle geloofreis.

Kyk gerus na sy topverkopers:

Dr. Barend Vos se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Ewald van Rensburg
‘n Predikant en bekroonde skrywer

’n Predikant en bekroonde kinderboekskrywer

Ewald van Rensburg is predikant by die Somerset-Wes Familiekerk in die Wes-Kaap en hy spesialiseer in jeug- en familiebediening.

Hy is bekend as ’n topverkoper-skrywer van kinderboeke wat jong kinders nader aan God bring. Hy het al heelwat boeke geskryf én vele ATKV-pryse daarvoor ontvang. Van sy gewilde kinderboeke sluit in Bomani Meerkat en die YesKids Bible Stories-reeks.

Boonop het Ewald ’n saamgeselsgids geskryf met die titel Goeie genade, jy is spesiaal! Hierdie boek het reeds in 2002 verskyn. Nadat talle mense regoor die land navraag oor die boek gedoen het, het Ewald weer na die inhoud gekyk. In dié proses het hy ses nuwe hoofstukke bygeskryf. Hy het ook nuwe inhoud by die meeste hoofstukke gevoeg. Sy wens is dat hierdie boek nog vele mense se lewens sal aanraak sodat hulle ook hulleself so spesiaal sal ervaar as deur deur God se sagte oë.

Ewald is tans op die bestuur van Christian Media Publishing. Hy is ook besig om sy doktorsgraad (Nuwe Testament) by die Radboud Universiteit in Nederland te voltooi.

Kyk gerus na sy topverkopers:

Ewald van Rensburg se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Stephan Joubert
‘n Teoloog, skrywer en stigter van die e-kerk

Vind meer uit oor hierdie teoloog, skrywer en stigter van die e-Kerk.

Vind meer uit oor hierdie teoloog, skrywer en stigter van die e-Kerk.

Prof. Stephan Joubert is ’n professor van teologie en ’n leraar. Hy is ’n ervare en bekroonde skrywer met talle topverkopers op die rak. Hy is ’n spreker en mede-vertaler van die moderne Afrikaanse Bybel.

Prof. Joubert is ook aangewys as die wenner van die Andrew Murray-prys vir die Beste Afrikaanse Christelike Boek in 2010.

Boweal is Stephan Joubert ’n volgeling van God en hy lewe vir een doel: Om die Here se Woord te deel. Sy roeping is om mense in en om die kerk op nuwe en innoverende maniere te dien – hy dink buite-die-boks. Vir hom is God se oneindige liefde sy grootste vreugde.

Sy skryfwerk help medegelowiges om die noue pad saam met God te stap en in oorgawe te lewe. Sy boeke en dagstukkies bevat meer as ’n dekade se akademiese navorsing, honderde praktiese preke en die wysheid van ’n lewe vol ervaring.

As jy hernuwing in jougeloof benodig, dan is Prof. Stephan Joubert se boeke vir jou. Begin sommer nou lees en leer hoe om volgens Jesus se voorbeeld te lewe.

Kyk gerus na sy topverkopers:

Prof. Stephan Joubert se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Fourie Rossouw
‘n Predikant, storieverteller en skrywer

Die predikant wat stories vertel

Fourie Rossouw is ’n knap skrywer, storieverteller en predikant. Hy woon in Strand en het ’n liefde vir die stad en ’n swakheid vir die platteland. In sy skryfwerk probeer hy die heiligheid van die alledaagse uitwys, maar moet in die algemeen met ’n knippie sout gelees word.

Wanneer jy Fourie se skryfwerk lees, voel dit asof die son in jou hart opkom. Hy gesels met jou deur middel van onopgesmukte innige stories. As skrywer van rubriekbundels het Fourie se werk ’n innemende egtheid en eerlikheid wat jou sommer van meet af aan laat tuis voel.

Kyk gerus na sy nuutste boek: Ligvoets is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Susan Goosen
‘n Skrywer en onderwyseres

Hierdie onderwyser fokus op kinders se geloofsvorming

Susan Goosen is ’n gekwalifiseerde onderwyser en skrywer wat nog altyd ’n liefde vir woorde, boeke en skryf gehad het. Deur haar betrokkenheid by skole en haar eie ervarings met haar kinders het die Here die belangrikheid van geloofsvorming op haar hart kom lê.
Susan spesialiseer in die geloofsvorming van kinders en jongmense en geloofsgroei binne gesinne. Benewens haar gereelde artikels en rubrieke in Christelike tydskrifte soos LiG het sy ook verskeie boeke geskryf soos die Vertel-Vertel! reeks en die pragtige Kinderbybel: Vertel my meer. Haar boeke is reeds in verskeie Suid-Afrikaanse tale vertaal.

Nico Smit
‘n Skrywer, leraar en berader

’n Skrywer, leraar en berader binne en buite die gemeente.

Dr. Nico Smit is ’n leraar by Dalpark-gemeente aan die Oos-Rand, waar hy verantwoordelik is vir die pastorale versorging van die gemeente.

As geregistreerde berader doen hy ook spreekkamerwerk. Nico is getroud met Karen, ’n hospitaalapteker en sy hart se punt. Hy is ook ywerig betrokke in die wyer gemeenskap.

Sy nuwe boek Ek weet dit alte goed is op die rakke en dis ’n wonderlike reis deur al die ervarings wat kleur aan ons lewens gee.

Met Psalm 139 as ankerteks vertel dié jong dominee openlik en eerlik hoe hy die lewe beleef én geleer het om vir homself te lag. Sy stories sal jou soms laat huil en ander kere heerlik laat lag, boweal sal dit jou inspireer en nuwe hoop gee.

Sy boeiende woordsketse getuig van ons weerloosheid, maar ook van ons as die kroon van God se skepping, van ons wat só wonderlik aanmekaargeweef is deur die God wat mag en krag het, maar wat ook nader aan ons is as ons eie vel.

Kyk gerus na Dr. Nico Smit se nuwe boek:

Ek weet dit alte goed is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Jaco Thom
‘n Skrywer, teoloog en gesinsmens

Topverkoper-skrywer en iemand met ’n passie vir die Bybel.

Jaco Thom is predikant van die NG gemeente Toringkerk in die Paarl, waar hy veral verantwoordelik is vir die kleingroepbediening van die gemeente.

Hy het as ’n topverkoper-skrywer bekend geword vir sy Bybelse romans. Die Bybelroman 1 en 2 vertel die hele Bybelse verhaal vanaf Genesis tot Openbaring.

Hy wil met sy romans deur die oë van die Bybelkarakters kyk en sy lesers sodoende help om God aan die werk te sien. Hy slaag sonder literêre pretensie daarin om die verhaal van die Bybel op ʼn vars manier oor te vertel.

Aanvanklik het Jaco Thom grepe van die Bybelverhaal in koerantvorm verwerk en dit só gepubliseer. Terwyl die Bybel sy passie is, is hy ook ’n toegewyde gesinsman.

Vir sy wonderlike skryfwerk het Jaco Thom alreeds baie toekennings ontvang, insluitend die 1995 CUM Afrikaans Stereo prys vir beste debuutroman vir Die Vreemdeling, en ook agt CBSA-toekennings vir Beste Publikasie vanaf 2000 tot 2005.

Kyk gerus na sy topverkopers:

Jaco Thom se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

Willem Nicol
‘n Predikant, leraar en skrywer

Ontmoet die vader van spirituele begeleiding in die NG Kerk.

Dr. Willem Nicol is een van die welbekende predikante in die NG Kerk. Hy staan bekend as die vader van spirituele begeleiding in ons kerk. Sy betrokkenheid by die NG Kerk strek oor baie dekades – vir 33 jaar was hy ook studenteleraar van die NG Kerk in Pretoria.

Hy het ’n doktorsgraad in Nuwe Testamentiese Wetenskap behaal met navorsing oor die Evangelie van Johannes sowel as ’n doktorsgraad in Sistematiese Teologie.

Dr. Willem Nicol is ’n vryskutpredikant en sy bediening fokus op die kontemplatiewe sy van geloof. Sedert 1988 het hy al meer as 10 boeke oor hierdie onderwerp geskryf.

Hy is ’n selfstandige Christen-denker wat sy sieninge op ’n helder manier oordra en sy lesers op ’n besondere wyse aanspreek. Hy het ʼn passie vir sy leefstyl met ʼn bewussyn wat oop is vir die Here, en dis veral waaroor sy skryfwerk gaan.

Sy reeks Bybelstudieboeke is ook ’n reuse sukses! Dis perfek vir kleingroepe of om selfs net op jou eie te bestudeer. Sy boek, Genooi om te volg, fokus op Jesus se aardse lewe en leer ons hoe om Jesus se voorbeeld na te volg in ons lewens vandag. Twee van sy nuwe titels is ook nou op die rakke beskikbaar: Uitgenooi (boek) en Uitgenooi Bybelstudie, asook Naby die kruis.

Kyk gerus na sy topverkopers:

Dr. Willem Nicol se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media

Coenie Burger
‘n Teoloog, predikant en skrywer

’n Predikant, bekende skrywer en invloedryke kerkleier

Coenie Burger is een van daardie name wat aan almal in die NG Kerk bekend is — en vir goeie rede. Hy is ’n oud-predikant, teoloog en skrywer van talle boeke en artikels.

Coenie het predikant geword op Graaff-Reinet in 1975 en in 1979 word hy ’n studenteleraar op Stellenbosch. Daarna het hy sy doktorsgraad in 1985 in praktiese teologie behaal.

Hy is ook bekend as die mederedakteur en mede­skrywer van Woord teen die Lig, ’n reeks van 20 publikasies, elk met sowat 20 eksegetiese stu­dies en preekriglyne.

In 1993 is die Andrew Murray-prys aan hom toegeken vir Die dinamika van ’n Christelike geloofsgemeenskap, en weer in 2017 saam met Andries Cilliers vir Ontvang wat vir julle gegee is – Hoe die doop ons kan leer om met Christus te leef. Sy reeks van meer as 40 boeke word nogsteeds wyd bekroon.

Coenie het ook gedien as die moderator van die Algemene Sinode en die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk. Onder sy leiding aanvaar hierdie sinodes ’n roepingsverklaring waarin die NG Kerk hom opnuut verbind tot God, tot same­werking met ander kerke, tot Afrika en in die besonder tot Suider-Afrika. As skrywer van talle teologiese boeke het hy met sy werke ’n diep indruk op leraars, gemeentes en gelowiges gemaak. Coenie was ook op die dagbestuur van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en The Evangelical Alliance of South Africa.

Kyk gerus na sy topverkopers:

Coenie Burger se boeke is nou beskikbaar by Bybel-Media.

X

Teken in op ons nuusbrief

Open chat
Scan the code
Hello 👋
Kan ons jou help?
My cart
Your cart is empty.

Looks like you haven't made a choice yet.